Behendigheid van besighede in onstuimige tye

James Noble, hoof van Groothandel, Kleinhandel en Franchising – Absa Besigheidsbankdienste, se die bank verwag na COVID-19 drie tipes reaksies van ondernemings in die onderskeie bedryfsektore.

James Noble, hoof van Groothandel, Kleinhandel en Franchising – Absa Besigheidsbankdienste, se die bank verwag na COVID-19 drie tipes reaksies van ondernemings in die onderskeie bedryfsektore.

Geen onderneming het ongedeerd van die COVID-19-pandemie afgekom nie. Dit het selfs ’n uitwerking gehad op ondernemings in die vinnig bewegende verbruikersgoedere- (VBVG) sektor wat handel dryf in kruideniersware, langlewe-verbruiksgoedere en gesondheids-, higiëne- en farmaseutiese produkte weens korter handelsure en meer konserwatiewe koopgedrag deur verbruikers.

Vir baie ondernemings in die groothandel- en kleinhandelsektor in Suid-Afrika, lyk die toekoms droewig. Verskeie subsektore in hierdie mark het tot ’n stilstand gekom tydens vlak 5 van die inperking en baie is steeds gesluit of stadig besig om aan die gang te kom. Dink aan die diepgaande uitwerking van die inperking op restaurante en kitskoswinkels, voertuighandelaars, toerisme-aantreklikhede, plekke van vermaak, klerewinkels en skoonheidsalonne. Stap deur enige inkopiedistrik en jy sal geslote deure, ontruimde winkels en handelsmerke wat verdwyn het, sien. Die toename in leë winkelfronte is ’n toonbeeld van die pyn wat hierdie sektor ervaar.

Verskuiwing in verbruikerskoopgedrag

Verbruikers is onrustig. Werkloosheid, inkomste-onsekerheid en die onbekende duur van die krisis staar hulle in die gesig, hulle waardebewustheid – wat reeds in handelstatistiek voor COVID-19 aanwesig was – sal sonder twyfel verdiep aangesien bekostigbaarheid op hulle gemoed rus.

Soos ons deur die inperkingsvlakke beweeg het, het Absa interessante tendense in die handelsektor waargeneem. Aankope en transaksies in die eerste kwartaal van 2020 was laer as in 2019, wat die negatiewe BBP-groei van die reeds gehawende Suid-Afrikaanse ekonomie weerspieël.

Tydens inperkingsvlak 5 het transaksies deurgaans tussen 50% en 72% gedaal, na gelang van maandelikse siklusse. Hoewel toestande met vlak 4 verbeter het (met ’n styging aan die begin van die maand namate die ekonomie oopgemaak het), het vloei later in die maand bykans tot 39% gedaal. Dieselfde tendens is in Junie gesien, toe ons na inperkingsvlak 3 beweeg het.

Die daling in die volume van transaksies was te wagte, maar dit is interessant om ’n toename in die volume en gemiddelde waardes van transaksies aan die begin van Mei, nadat inperkingsvlak 4 ingestel is, te sien. Kliënte het minder gereeld begin koop, maar meer gekoop om besoeke aan winkels gedurende die maand te beperk.   

Ondernemings wat die minste geraak is, was dié wat vleis, klere (vlak 4), kruideniersware, gesondheids- en higiëneprodukte verkoop het. Lugrederye, hotelle, reisagentskappe, vulstasies, drankwinkels, restaurante en tabakverkope is die swaarste getref.

Die toekoms: Sektor- en besigheidsreaksie

Ons verwag na COVID-19 drie tipes reaksies van ondernemings in die onderskeie bedryfsektore. Hierdie reaksies hang van twee elemente af: Die gesondheid van die bedryf uit ’n strukturele oogpunt voor die krisis, en die uitwerking van die pandemie op daardie sektor.

Reaksie #1: Diepgaande verandering

Die eerste stel reaksies sal die mees dramatiese wees. In sektore waar strukturele uitdagings voor COVID-19 bestaan het, verder verswak deur die krisis, verwag ons langtermyn- en sistemiese verandering. Dit sluit in ondernemings in die toerisme-, gasvryheids- en vermaaklikheidsbedryf, asook lugrederye en sommige vervaardigingsondernemings.

Die huidige krisis bied ’n unieke geleentheid vir sodanige ondernemings om fundamenteel aan te pas en op die lang duur in ’n sterker sektor te funksioneer. Vooruitdenkende innoveerders wat gewillig is om aan te pas, sal nog in die toekoms oorleef. Internasionale reise sal byvoorbeeld vir die meeste mense amper onbetaalbaar word, wat die weg sal baan vir nuwe hoëgehalte- en gediversifiseerde binnelandse aanbiedings. Die vermaakbedryf sal alternatiewe leweringsmeganismes vereis – potensieel snelgroeiende?? digitale of kunsmatige ervarings. Vervaardigers wat swaar steun op afstandsaanbodkettings, sal ook risiko verminder deur op plaaslike produksie staat te maak, en dus heel nuwe sektorwaardekettings ontsluit, wat werkskepping tot gevolg sal hê.

Reaksie #2: Aanpassing van die besigheidsmodel

Dan is daar die sektore wat nie noodwendig diep strukturele veranderings in die gesig staar nie, maar waarop die COVID-19-krisis ’n diepgaande uitwerking gehad het, soos nie-noodsaaklike vervaardigings- en kleinhandel-, spysenierings-, finansiële en professionele dienste. Hier sal ons waarskynlik aanpassing aan bestaande besigheidsmodelle sien. Ons glo dat die vervaardigingsektor opgehef kan word deur steun soos staatsmeesterplanne, maar dat ons ons fokusareas versigtig sal moet kies. Die sukses van die plaaslike motorbedryf is byvoorbeeld gegrond op die beskikbaarheid van aansporings, kapitaalfinansiering, sterk steun van OTV’s, ’n goed ontwikkelde en gevestigde komponentvervaardiging-verskafferbasis, en sterk bedryfs- en arbeidsgesteunde organisasies. Om die sukses in die tekstiel-, duursamegoedere- of tegnologiebedryf te repliseer, sal staatsverbintenis en dapper besluite verg. Die kleinhandelsektor sal meer e-handel- en aanlyninkopies, en tuisaflewering regstreeks na die verbruiker, en dus ’n toename in die behoefte vir verspreidingsentrums nader aan die kliënte, sien. Professionele dienste sal permanente werk-van-die-huis-af-praktyke insluit, wat sal aandui wat kopers in hulle huise sal nodig hê, soos geskikte werksruimte, dalk ’n tuisgimnasium en toepaslike tegnologiese infrastruktuur.

Ons sien reeds hoe ondernemings in hierdie bedrywe die vrugte van nuwe besigheidsmodelle pluk: Sommige kitskosrestaurante, wat nou op tuisaflewering fokus, het beter omsette tydens vlak 3 beleef as voor die inperking. In die motor-namark het ondernemings vergeleke met die vorige jaar, rekordomsette in Mei gesien toe verbruikers op die versiening en herstel van hulle voertuie gefokus het.

Reaksie #3: Besigheid soos gewoonlik

Die derde besigheidsreaksie sal in sektore wees wat die minste deur die COVID-19-pandemie geraak is. Ons is egter bekommerd dat ons dalk ’n besigheid-soos-gewoonlik-benadering en ’n tekort aan innovering sal sien. Voedsel- en farmaseutiese kleinhandelaars wat groter verkoopsvolumes voor die inperking beleef het as die vorige Swart Vrydag, sal voortgaan om verskaffers te druk vir laer pryse, verhuurders vir laer huur en sal die oomblik aangryp om winste te verhoog gegewe verbruikers se afhanklikheid van hulle. Dit sal interessant wees hoe kleiner onafhanklike handelaars nader aan kliënte, met ’n tersaaklike aanbod vir spesifieke markte, voordeel trek uit die hervormde verbruiker.

Om duidelik te wees: Daar was reeds teen die einde van Maart ’n aanduiding van kommer in die handelsektor. Ons het verlaagde jaar-tot-jaar-handelsbedrywighede gesien weens beurtkrag, verhoging in krag- en brandstofpryse, verhoogde arbeidskoste, geïnfleerde en verhoogde huur en onderdrukte vraag, wat alles bydra tot verhogings in bedryfskoste en laer winsgewendheid. Hierdie uitdagings sal aangespreek moet word, met oplossings soos hernubare energie vir krag, plaaslike seisoenale verkryging om vervoerkoste te verlaag, doeltreffende tegnologie en stelsels om mense se afhanklikheid van mense te verminder en tersaaklike waardeproposies om kliënte te lok en te behou.

Absa-steun

Sommige bedrywe sal erger geraak word en langer neem om van die pandemie te herstel, maar wat Absa uit die 2008 ekonomiese krisis geleer het, het ons in staat gestel om proaktief steun en verligting aan besigheidskliënte te bied. Ons raad is om openlik met verhuurders, verskaffers, personeel, franchisegewers en banke te onderhandel, sodat haalbare finansiële oplossings gestruktureer kan word om besighede tydens en na COVID-19 te beskerm.

Ons het omvattende betalingsverligtingsplanne geskep en kliënte wat kwalifiseer, kan ’n nie-betalingtydsperk onderhandel om hulle finansiële las te help verlig. Leningspaaiemente, -rente en -gelde loop maandeliks op en word teen ’n leningsrekening gekapitaliseer, maar leningsvoorwaardes en -terugbetalings sal aangepas word om die besigheid te help om in hierdie moeilike tydperk te oorleef.

Absa se benadering is om doelgemaakte oplossings vir klein en medium ondernemings te bied volgens hulle individuele omstandighede, wat insluit kredietprodukte soos lenings en oortrekkingsfasiliteite, verbandgesteunde besigheidslenings en handelseiendom- en handelsbatefinansieringsprodukte. Kliënte met handelaar- en kontantoplossings kan ook vir hulp aansoek doen.

Ons planne is daarop gemik om ons kliënte wat weens die pandemie met kontantvloei sukkel, te help. Vir meer inligting of hulp, besoek www.absa.co.za/personal/covid-19/ of praat met ons bedryfspesialiste en verhoudingbestuurders. Om meer oor ons groothandel-, kleinhandel- en franchisebedryf uit te vind, kontak ons by [email protected].